Ons almal het drome, en sommige van ons
is bevoorreg genoeg om dit ten volle uit te leef. Hierdie album
was Jolette se droom, en met baie aanmoediging en inspirasie
het dit ‘n werklikheid geword. Deel van hierdie droom
was om saam met die “droomspan” te werk en dit het
ook vir haar waar geword. Na 10 jaar saam met die welbekende
a capella groep “Cutt Glas,” was Jolette gereed
om haar vlerke as solo kunstenaar te sprei.
Uiteindelik is dit ons as die luisteraars
se beurt, om deur haar vokale meesterskap, absolute musikaliteit
en skrywerstalent geinspireer te word.
In haar keuse van liedjies vir hierdie
diverse album, speel sy rond met verskillende style. Jolette inkorporeer
haar teater agtergrond (met produksies soos “Big Band Blast”),
en wys dat sy haar vinger ferm op die pols van die hedendaagse
musiekbedryf het.
“Jolette” bevat vars verwerkings van bestaande liedjies
(“La vie en rose”- Piaf, “Gypsy” -Mynie
Grové, “In Your Eyes” -Peter Gabriel en “Pata
Pata”- Miriam Makeba), asook oorspronklike materiaal, waarvan
die lirieke en musiek deur Jolette Odendaal self geskryf is. Die
bestaande liedjies het sy gekies vanwee die impak wat dit op haar
eie musikale reis tot dusver gehad het.
Die album is opgeneem by Robin Walsh
se ateljee, en die produksie is behartig deur Mauritz Lotz. Die
verwerkings is gedeel deur Robin Walsh, Mauritz Lotz, Wikus du
Toit en Jolette Odendaal. Jolette en Mauritz het saam die programering
gedoen.
Kitaar is deur die meester, Mauritz
Lotz gespeel, viool deur Annake de Villiers, akkordion deur Matthys
Maree, konsertina deur die bekende Lieb Bester en klavier deur
Jolette self.
Suid Afrika het nog nooit so
iets, van die talent op eie bodem ontvang nie. Hierdie solo album,
bloot genaamd “Jolette,” is ‘n vokale en musikale
kragtoer en is landwyd beskikbaar. Jolette se eerste solo vertoning
ook getiteld “Jolette,” kon by vanjaar se ABSA-KKNK
kunstefees in April gesien word.